home     scream       icon    

partytjie

Die kort arm staan op vyf en die lang arm op twaalf, maar die son het nog nie die donker gebreek nie, maar mens weet aan die koue dat die haan binnekort gaan kraai. Die drank loop nog sterk en het sy werk goed gedoen, maar jy kan sien dat as die son nie gou sy verskyning maak nie, gaan die helde begin val en sal sommer net daar ter gronde gelê sal moet word. Ek meen, die radio blêr al rustige rock musiek op 'n minderwaardige volume.

Die gesprek is diep in sy derde uur. Filosofie. Politiek. Elke partytjie wat sy drank werd is moet 'n filosofiese gesprek ingeweef hê. Liefde, apartheid, is ons alleen in die heelal. "Het jy gehoor Kerkorrel het ge-pek?"
"Fok, ja, die bra het nogal 'n lekker tune hier en daar gegooi"
Die meide tik rusteloos op die glas tafel met hul vingers. Die snuifgoed raak min. Planne sal moet beraam word. Geld insamel, almal moet sy deel las. Ons kan net dankbaar wees die dealer is altyd oop vir besigheid. Niemand van ons kan onthou waar ons sy nommer gekry het nie, maar niemand kla nie en boonop is almal te wired om aan paranoia te ly.

Die token daggakop rol nog 'n joint om die koppe nog meer te laat raas. Soms wonder ek hoe die menslike liggaam net so al hierdie gifstowwe wat in sy gapings ingeprop word kan hanteer. Maar ek kla nie. Daar is niks meer plesierig vir 'n mens as om sy liggaam te mishandel nie. Hierdie tyd van die oggend is die liggaam nie meer 'n tempel nie, dit is 'n vullisblik wat oorvol is, maar waarin jy nog steeds iets kan inforseer as jy daarop trap. O ja, maar dis snaaks hoe 'n dronk-bedwelmde staat jou morele waardes so in die steek laat. Dis seker hoekom meeste van die chemikalië wat verorber word hier onwettig is? Tiete begin aantreklik lyk. Jy begin aantreklik voel. Maar daardie gedagtes sal maar toegesluit binne jou kop moet bly. Hier is ander mense. Alhoewel hulle heel moontlik presies dieselfde gedagtes as jy het. Fokweet. Dit is tyd vir nog 'n drankie want die snuifgoed vloei nog te stroom-af deur die are. Brandewyn en coke is altyd 'n goeie oggend drankie. Brandewyn en coke is 'n geboortereg.

Sonsopkoms bring saam met dit 'n nuwe lewe. Jou liggaam vergeet van al die houe wat aan hom toegedeel is, en voel vervris, reg om nog in te neem. Die son is soos 'n drein reiniger wat al die gemors verwyder. Jy voel goed. Die omgewing lyk goed. Die verdowingsmiddels flous jou brein en al die kleure wat op jou retina val is sag en helder. 'n Oorweldige positiewe gevoel reën neer oor die partytjie. Almal sien mekaar in die daglig. Almal lyk soos kak, maar ons lag daaroor. Al die Vigs in Afrika kan nie nou 'n swart bui oor hierdie groep mense bring nie. Fok die ekonomie. Stoot die radio se volume op en bel die dealer. Die dag het begin, ons wag al heel donnerse aand vir dit. Breek oop die yskas en bring vir my 'n koue. Daar is geen tyd om te mors nie. Maandag kruip nader en daar is nog geld in my bank rekening. Ons beter dit spandeer voor die wisselkoers verder val.

Hier sit ons almal. Bruin, wit, swart. Afrikaner, Ovambo, rooinek, Xhosa. Bewus van ons verlede van konflik, maar salig apaties. Ons breek die reëls wat die vorige bedeling vir ons neergelê het, en ons breek die reëls wat die nuwe bedeling vir ons neerlê. Het die mense wat die konstitusie geskryf het gewonder oor mense soos ons. Vriende wat hul salarisse spandeer op aardse plesiere. Verdoofde breins wat nie meer die krag het om te ondeskei op grond van kleur of status nie. Is ons die Afrika droom, of is ons 'n nuwe gevaar wat die "social fabric" gaan vlenters skeur? Die here alleen weet, maar hy is nie genooi na ons partytjie nie. Nee wat, ons hang vanaand net uit met Afrikane.



Linkies: thornyrabbit | barkersegg | watkykjy? nihil, 23 credibility street, rafah, gaza strip
email: nihil loves mail!